Westerlinge is dikwels verstom deur die feit dat Afrikaners nie hoop vir die toekoms verloor nie al is hulle ʼn besonder klein minderheid sonder enige noemenswaardige demokratiese verteenwoordiging op nasionale vlak. ʼn Leidraad ter verklaring van hierdie skynbare anomalie lê opgesluit in ʼn onderliggende en grootliks ongemerkte verskuiwing in ingesteldheid wat onder Afrikaners ingetree het. Die 2024-verkiesing in Suid-Afrika word deur talle politici en kommentators as “die grootste sedert 1994” beskryf. As ʼn mens die retoriek in ag neem wat in 2024, ʼn besige verkiesingsjaar wêreldwyd, geopenbaar word, begin die algemeen geldendheid van hierdie sentiment duidelik word. Selfs in die Verenigde State maak talle ʼn groot ophef van die 2024-presidentsverkiesing deur dit te beskryf as “dié belangrikste in ʼn generasie”. Maar, as jy vir ʼn wyle stilstaan om hierdie retoriek in sy korrekte historiese konteks te oorweeg, besef jy dat jy hierdie verkoopspraatjies al vantevore gehoor het. Trouens, elke verkiesing, of dit nou in Suid-Afrika of elders is, word dikwels as dié maak-of-breek-oomblik vir ʼn nasie getipeer.
Ná opeenvolgende verkiesings waarin politici of partye ʼn oorwinning behaal of aan bewind bly op grond van leë beloftes wat oor radikale verandering gemaak is, om maar net weer méér van die status quo te lewer, begin apatie en ʼn uiteindelike gevoel van hopeloosheid onder kiesers posvat. Wat is dan die alternatiewe strategie as ʼn verkiesing nie die beloofde bedelingsvernietigende verandering oplewer nie? Wag jy eenvoudig tot die volgende “grootste verkiesing” deur harder te stem, of is daar ʼn ander weg wat jy intussen kan inslaan?
Wat meer pertinent vir Westerlinge is, is die vraag waarom 30 jaar se teleurstellende verkiesingsuitslae nie ʼn verlammende negatiewe uitwerking op die moraal of toekomshoop onder die meeste Afrikaners gehad het tot dieselfde mate as wat ons dit onder kiesers in talle ander Westerse nasies teëgekom het nie.
Ná dekades van ontnugterende verkiesings het Afrikaners besef dat verandering in die samelewing nie uitsluitlik elke vyf jaar hoef plaas te vind deur te stem nie. Verandering vind ook in die jare, maande en dae tussen verkiesings plaas. As verkiesings nie na jou wens verloop nie, is die enigste alternatiewe wat oorbly ook nie gewelddadige revolusie of stagnerende apatie nie. Een so ʼn praktiese, verantwoordelike alternatief met ʼn positiewe visie vir verandering is ʼn alternatief waardeur jy daardie verantwoordelikhede waartoe jy bereid en in staat is, van die staat terugneem. Soos Ernst Roets, my kollega by die Solidariteit Beweging, beklemtoon het: Nuwe werklikhede word nie geëis nie; hulle word gebou.
In die post-apartheid Suid-Afrika het omstandighede Afrikaners gedwing om die oorgang te maak vanaf staatsbouers tot om weer organisasiebouers te word. Hierdie selfhelp-strategie (“selfbestuur”) is diep gewortel in ons geskiedenis en die uitmuntende prestasies van die Helpmekaar Beweging illustreer die beginsel van selfhelp by uitnemendheid. Die lesse wat Afrikaners deur die geskiedenis en weer deur die suksesse van 21ste eeuse organisasies soos AfriForum geleer het, is dat werklik volhoubare verandering geleidelik, eerder as op skielike of revolusionêre wyse plaasvind. AfriForum se werknemers, lede en vrywilligers het nie gewag op die finalisering van die 2024-verkiesingsuitslae voordat hulle weer begin het om hul gemeenskappe veiliger, skoner en meer veerkragtig te maak nie. Hulle was besig om in groot getalle slaggate op te vul, woonbuurte deur buurtwagte te patrolleer en dies meer toe die tel van stemme nog aan die gang was. Nadat hulle hul stem uitgebring het, het hulle teruggekeer om dít te doen wat binne hul vermoë en beheer is om dinge te herstel, te bewaar en te verbeter.
Verandering vind plaas deur gemeenskappe wat bome plant, openbare ruimtes en kulturele erfenisterreine in stand hou, en deur buurtwagvrywilligers wat hul gemeenskappe patrolleer. Verandering kan elke dag plaasvind deurdat ouers meer betrokke raak by hul skole, liefdadigheidsorganisasies en kerke. Werklike verandering neem die vorm aan van ʼn skoner, veiliger straat bewerkstellig danksy diegene wat daar woon wat nie op die regering wag nie, maar eerder hul moue oprol en self verantwoordelikheid neem. Verandering vind plaas deur AfriForum se 173 of meer takke wat duisende slaggate opvul, padtekens verf, gras sny, rommel optel en riviere, begraafplase en erfenisterreine skoonmaak. Verandering word gedryf deur daardie aktiewe onbaatsugtige lede van ʼn gemeenskap wat hul bure help en wat seker maak dat die regte waardes in hul huise seëvier. Werklike tasbare verandering het dus sy oorsprong tuis wat lê in die eenvoudige dinge soos ʼn pa wat sy seun oor hul familiegeskiedenis leer, of ʼn ma wat ʼn klassieke boek oor volkshelde uit hul kultuur aan haar kinders voorlees.
Hoe meer verantwoordelikhede gesinne, en gemeenskappe by wyse van uitbreiding vanaf hierdie nederige begin self terugneem en opneem, hoe meer staatsbestand, en uiteindelik “verkiesingsbestand,” sal hulle gaandeweg word – staatsbestand in die sin dat mislukkings en selfs kwaadwillige beleid van die staat hierdie gemeenskappe al hoe minder raak; en “verkiesingsbestand’ in die sin dat verkiesings met ongewenste uitslae daardie gemeenskappe se toekoms tot ʼn veel geringer mate bedreig.
Om na hierdie veerkragtigheid in die aangesig van teleurstellende verkiesingsuitslae te strewe beteken nie dat verkiesings nie belangrik is en afgeskryf moet word nie. Die antieke Griekse politikus en veldheer, Pericles, het gesê: “Net omdat jy nie in politiek belangstel nie, beteken nie dat politiek nie in jou belangstel nie”. Verkiesingsuitslae sal vir die afsienbare toekoms ʼn beduidende uitwerking op ons lewens hê. Stem dus wanneer jy die kans kry en stem vir die partye en politici wat die ruimte vir groei vir gesinne en gemeenskappe skep wat ʼn toenemende mate van verantwoordelikheid van die staat wil terugeis om só hul toekoms in hul eie hande te neem.
Die waarheid is dat daar inderdaad lewe ná verkiesings en anderkant die stembus is. Gemeenskappe se krag om toekoms in hul eie hande terug te neem, bestaan; dit moet net opgeneem word. Jy moet net bereid wees om jou moue op te rol, te organiseer en aan die werk te spring. Die Afrikaners van Suider-Afrika het die verslete gereedskap om hul gemeenskappe te herstel, te handhaaf en te verbeter in die modder gekry. Hulle het dit bloot weer opgetel en aan die werk gespring.