Die ANC se destruktiewe beleide: Die implikasies vir Suid-Afrika se ekonomie

Oor die afgelope paar dekades het die verval van staatsinstellings, infrastruktuur en die agteruitgang van publieke administrasie in Suid-Afrika daartoe gelei dat die land toenemend agteruit boer.

Solidariteit Beweging

Geskryf deur Werner Fourie, Ekonomiese Navorser

Inleiding

“Idees maak kinders groot of kinders dood.” – Flip Buys

Oor die afgelope paar dekades het die verval van staatsinstellings, infrastruktuur en die agteruitgang van publieke administrasie in Suid-Afrika daartoe gelei dat die land toenemend agteruit boer. Dié verval het nie net veroorsaak dat die land ekonomies stagneer nie, maar het ook tot ’n toename in verskeie maatskaplike kwessies soos misdaad, armoede en werkloosheid gelei. Tans het Suid-Afrika van die hoogste misdaad- en werkloosheidsyfers ter wêreld, ontvang bykans 50% van die bevolking ’n toelaag of subsidie, en is dit in die laaste dekade ʼn gesukkel om ʼn groeisyfer van 1% per jaar in die bruto binnelandse produk (BBP) te bereik.

Hoewel daar verskeie faktore is waaraan hierdie verval toegeskryf kan word, is die een duidelike oorsaak die wanbeleide en magsbeheptheid van die African National Congress (ANC), Suid-Afrika se nasionale regerende party. Die ANC het vanaf 1994 ’n unieke strategie geïmplementeer om die land grotendeels sosialisties te maak en sy mag uit te brei. Dit het hy grootliks gedoen deur met nuwe wette, regulasies en “transformasie”-gedragskodes aan lojale persone beheer oor alle “magshefbome” te gee, grondwetlike voorsorgmaatreëls verder te erodeer, en wit mense en die land se liberale opposisie te stigmatiseer.

Vandag het Suid-Afrika met meer radikale idees soos onteiening sonder vergoeding (OSV) en die nasionalisering van gesondheidsorg (NGV), onder andere, te kampe. Die doel van dié skrywe is om lig te werp op die ideologiese raamwerk van die ANC en hoe beleide soos dié negatiewe gevolge vir Suid-Afrika se ekonomie inhou.  

Die ANC se ideologiese raamwerk en strategie

Die ANC se ideologiese raamwerk word sigbaar in die uitleg van ’n strategiese plan genaamd die “National Democratic Revolution” (NDR). Die doel van hierdie plan is om Suid-Afrika stelselmatig in ’n sosialistiese samelewing te omskep waar eiendom van hoofsaaklik wit burgers ontneem word en in die bestuur van die ANC geplaas word om dit sodoende aan “voorheen benadeelde” mense te herverdeel. Die einddoel hiervan is nie soseer om vir hiérdie mense ’n beter toekoms te skep nie, maar eerder om ’n afhanklikheidstaat te bou om mag te behou en ’n klein, elite groepie te bevoordeel.

Die Instituut vir Rasseverhoudings (IRR)[1] skryf dat die NDR bestaan uit ’n “politieke” fase gevolg deur ’n “sosio-ekonomiese” een. In die “politieke” fase was die ANC se hooffokus om sy greep oor mag te versterk deur die land se Grondwet te ondermyn. Dit was dus nodig om weerstand teen die sosio-ekonomiese beleidsverskuiwings, wat volgens beplanning in die tweede fase moet oorheers, te verminder.

Gedurende die eerste fase het die ANC sy mag versterk deur:

  • sosio-ekonomiese regte op onderwys, gesondheidsorg, behuising en maatskaplike welsyn in die 1996-Grondwet in te sluit om die staat te bemagtig en afhanklikheid van hom te verhoog;
  • die parlement se vermoë om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep, te verswak; en
  • ’n omvattende beleid van “kaderontplooiing” te aanvaar om die openbare diens, gewapende magte en staatsbeheerde ondernemings onder ANC-beheer te bring. Kaderontplooiing is ook verder uitgebrei na ander noodsaaklike instellings, insluitend die regbank, die media, universiteite, sake-organisasies, die burgerlike samelewing en verskillende grondwetlike strukture wat bedoel is om Suid-Afrika se demokrasie te versterk (onder andere die Openbare Beskermer en die Onafhanklike Verkiesingskommissie).

Die sosio-ekonomiese beleide wat gedurende fase een geïmplementeer is, sluit onder andere die volgende in:

  • Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wat op rassekwotas in die werkplek en eienaarskapverdeling van ondernemings gefokus is;
  • maatskaplike welsyn wat op groot skaal uitgebrei is deur maandelikse kontanttoelaes vir kinders, tesame met gratis HOP-huise, gratis basiese onderwys vir die armes en verskeie ander aspekte van die maatskaplike loon;
  • ’n stadige en komplekse proses van grondherstel en herverdeling is geïmplementeer om die belangrikheid van regstelling te beklemtoon en eiendomsregte te ondermyn; en
  • alle water- en minerale hulpbronne is in die voogdyskap van die staat gevestig, wat private eienaarskap van hierdie hulpbronne beëindig sonder dat vergoeding betaal word.

Teen 2012 het die ANC baie van die Grondwet se kontrole en teenwigte aansienlik verswak, wat die weg gebaan het vir die tweede fase van die NDR. Vanaf 2014 het die ANC die behoefte aan “radikale ekonomiese transformasie” begin beklemtoon, wat daarop gemik is om die “struktuur” van die ekonomie te verander, tesame met sy eienaarskap en beheer. Dit is hier waar die ANC al hoe meer begin het om radikale veranderinge aan te voor soos om die Grondwet ten opsigte van onteiening sonder vergoeding (OSV) te wysig, nuwe gelykheidsregulasies ten opsigte van indiensneming, strenger swart ekonomiese bemagtiging en inheemswording te implementeer, en die NGV in te stel.

Hierdie drastiese veranderinge is juis om die ANC verder te bemagtig en Suid-Afrika baie nader aan ’n gesosialiseerde ekonomie te bring. Op hierdie koers sal die privaat sektor boonop toenemend uit die verskaffing van “openbare goedere” soos onderwys, gesondheidsorg en vervoer gedwing word, wat slegs deur die staat beskikbaar gestel sal word. As die afgelope paar dekades enigsins ’n aanduiding is, is dit nie ingewikkeld om te besef dat meer staatsbeheer rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika sal inhou nie.

Ekonomiese impak van onteiening sonder vergoeding en Nasionale Gesondheidsversekering

Twee radikale beleide wat die afgelope paar jaar toenemend weer hulle koppe uitsteek, is OSV en NGV. OSV gaan daaroor om grootliks landbougrond van wit boere te ontneem (sonder enige vergoeding) en dit aan “voorheen benadeelde” persone oor te dra. Die fout wat gemaak word, is dat daar nie aan die wyer implikasies van sulke beleide gedink word nie.

Die mense wat tans in Suid-Afrika boer, beskik oor die nodige kennis, ervaring en netwerke om hul plase suksesvol te bedryf en voedselsekerheid aan die land te bied. Hierdie boere verstaan hoe die plaaslike asook internasionale mark werk en is op hoogte van die jongste verwikkelinge in die boerderybedryf. Indien hierdie boere van hulle grond ontneem sou word, beteken dit dat ’n nuwe “boer” eers sy voete moet vind voordat hy op dieselfde vlak as die vorige boer kan funksioneer. Dit beteken dat plase nie optimaal bedryf sal word nie, wat tot hoër insetkoste, kleiner oeste en duurder produkte sal lei – inflasie sal verseker toeneem, wat verskeie ander negatiewe gevolge vir die land se ekonomie sal inhou. Werkloosheid sal ook toeneem omrede die plaas nie winsgewend bedryf kan word nie en as sodanig nie meer mededingend kan wees en die nodige opbrengste kan laat realiseer nie. Selfs al sou die nuwe “boere” opgelei wees, gaan daar steeds ander reperkussies wees. Beleide soos OSV stuur die boodskap aan plaaslike en internasionale beleggers dat hul eiendom nie veilig is nie. Dit sal beteken dat beleggers onttrek en hul kapitaal na die buiteland neem. Wanneer kapitaal trek, trek geleenthede daarmee saam, wat ook beteken opgeleide Suid-Afrikaners sal heel moontlik die land verlaat.

Verder, ’n beleid soos die NGV bedreig hoofsaaklik die gehalte van gesondheidsorg wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Die rede hiervoor kan daaraan toegeskryf word dat mededinging vir opbrengste en die behoefte aan innoverende probleemoplossing verwyder word van die bedryf; in enige bedryf is daar beperkte hulpbronne om die vraag na goedere en dienste te bevredig, en wanneer daar ’n winsmotief is, word hulpbronne gewoonlik optimaal aangewend. Die nagevolge wat hierdie beleid vir Suid-Afrika se ekonomie sal inhou, is eerstens swak mediese dienslewering wat ’n minder produktiewe arbeidsmag tot gevolg sal hê. Dit sal veral gesien word in die werktyd wat verlore sal gaan weens langer hersteltyd, asook heelwat vertraagde prosesse en langer afsprake by dokters. Verder kan daar selfs aanvaar word dat mense sal sterf weens ’n gebrek aan gehaltedienste en -sorg. Kortliks gestel, uitsette sal verlaag word wat tot laer ekonomiese groei sal lei.  

Dan, die ander groot impak wat die beleid sal meebring, is die geleentheidskoste vir die belastinggeld wat elders bestee kon word. Hierdie uitvloei uit Suid-Afrikaners se sakke sal tot minder spaar, investering en besteding lei, wat gevolglik tot minder ekonomiese aktiwiteit in die breër konteks van Suid-Afrika sal lei. Belastinggeld sal wel nie net minder effektief aangewend word nie, maar heel moontlik glad nie aangewend word nie weens korrupsie, wat verder tot maatskaplike kwessies sal bydra. Laastens, die NGV sal ook meebring dat salarisse en praktyke van dokters gestandaardiseerd sal word. Gevolglik sal dokters wat nie onder hierdie omstandighede wil werk nie, die land verlaat. Swak mediese dienste sal ook daartoe lei dat ander Suid-Afrikaners ook ʼn ander heenkome soek, wat tot ’n swakker arbeidsmag sal lei, wat ook ekonomiese groei sal vertraag.  

Samevatting

Die verval van staatsinstellings en infrastruktuur in Suid-Afrika, wat tot ekonomiese stagnasie en ‘n toename in maatskaplike kwessies soos misdaad, armoede en werkloosheid gelei het, word grootliks aan die wanbeleide en magsbeheptheid van die ANC toegeskryf. Die ANC het ‘n strategie geïmplementeer om die land meer sosialisties te maak en sy mag uit te brei, wat tot die implementering van nuwe wette, regulasies en “transformasie”-gedragskodes gelei het. Onlangs het twee radikale beleide, naamlik onteiening sonder vergoeding (OSV) en die nasionalisering van gesondheidsorg (NGV), weer kop uitgesteek. Hierdie beleide hou egter potensiële negatiewe gevolge vir Suid-Afrika in, wat verder tot die agteruitgang van die land sal bydra.

Deel:

Meer plasings

Waarvoor veg ons?

Hier is die toespraak wat Ernst Roets in Julie 2024 in New York City gelewer het, by ‘n geleentheid wat deur die New York Young Republicans Club aangebied is. Hy het gepraat oor Suid-Afrika, die Afrikaners en ons Westerse erfenis. Ten slotte deel hy ‘n paar idees oor hoe om die vraag te beantwoord: Waarvoor veg ons?

Die Afrikanerstigting en AfriForum sluit suksesvolle ondersteunings-insamelingstoer na die VSA af

Dit is duidelik dat die internasionale gemeenskap toenemend bewus word van die uitdagings wat minderhede in Suid-Afrika soos Afrikaners in die gesig staar, asook die soort oplossings waarmee die instellings van die Solidariteit Beweging vorendag kom om hierdie uitdagings aan te spreek. Dit is die algehele waarneming van die verteenwoordigers van die Afrikanerstigting en AfriForum wat pas teruggekeer het van ‘n ondersteuningsbesoek aan die VSA.

Stuur vir ons 'n boodskap

Please enable JavaScript in your browser to complete this form.