AKADEMIA
Verbind tot ʼn vrye toekoms vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe
Die Keniaanse denkleier Ali Mazrui het gesê dat ʼn gemeenskap wat nie die wil het om ʼn volhoubare universiteit op te rig nie, ook nie die wil het tot volhoubare ontwikkeling en vooruitgang nie. Die Afrikaanse gemeenskap het nog altyd uit die as opgestaan deur opleiding en daarom is die Akademia-projek slegs ʼn voortsetting van ons gemeenskap se vertroue in ontwikkeling deur opleiding.
AKADEMIA
Verbind tot ʼn vrye toekoms vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe
Die Keniaanse denkleier Ali Mazrui het gesê dat ʼn gemeenskap wat nie die wil het om ʼn volhoubare universiteit op te rig nie, ook nie die wil het tot volhoubare ontwikkeling en vooruitgang nie. Die Afrikaanse gemeenskap het nog altyd uit die as opgestaan deur opleiding en daarom is die Akademia-projek slegs ʼn voortsetting van ons gemeenskap se vertroue in ontwikkeling deur opleiding.
- 'n Dekade van groei en uitbreiding
Sedert die eerste klas in 2012 by Akademia aangebied is, het dié instelling van krag tot krag gegaan. Vandag, meer as ʼn dekade later, geniet dié instelling ʼn uitsonderlike bloeitydperk wat reeds die ingebruikneming van ʼn voltydse kampus in Centurion, die bekendstelling van twee koshuise én die nuus van geografiese uitbreiding na die Wes-Kaap insluit. Laasgenoemde droom is vinnig besig om gestalte te kry en daar word voorsien dat die werksaamhede van dié satellietkampus, wat na alle waarskynlikheid in die Paarl-omgewing gesetel sal wees, reeds so vroeg as 2026 ʼn aanvang sal kan neem.
Ander toekomsplanne sluit die oprigting van ʼn moderne en allesomvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria in. Voltooiing van dié ontwikkeling word vir 2028 in die vooruitsig gestel en gaan gepaard met ʼn omvattende aanbod wat voorsiening maak vir 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente wat in Pretoria sal kan studeer. Daar sal ook voorsiening gemaak word vir nagenoeg 1 500 koshuisstudente.
Lees meer
Argitektonies sal die ontwerp van die nuwe kampus ʼn verbintenis met die klassieke aard van Akademia visueel in ʼn hedendaagse konteks bewerkstellig. Die geraamde ontwikkelingskoste van hierdie kampus beloop R3 miljard, en ʼn kapitaalwerwingsveldtog sal eersdaags van stapel gestuur word. Ons het uit die geskiedenis geleer dat die skynbaar onmoontlike deur die krag van ʼn samewerkende gemeenskap moontlik gemaak kan word, en daarom sal hierdie kapitaalwerwingsveldtog, asook die uiteindelike kampus die seël van gemeenskapsverbondenheid dra.
Waar Akademia aanvanklik met slegs vier programme in een fakulteit en ʼn handjievol dapper en passievolle personeel begin het, spog die instelling vandag met ʼn verskeidenheid van programme wat deur vyf dinamiese fakulteite aangebied word. Hierdie fakulteite is: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, en Regsgeleerdheid. Hierbenewens het studente ʼn keuse tussen twee onderrigleermodelle: die voltydse kampusmodel wat op die Centurion-kampus aangebied word, óf die nauurse afstandsmodel wat via ʼn landswye netwerk van sentrums of ʼn e-leeropsie aangepak kan word. Laasgenoemde is ideaal vir studente wat reeds werk, of ander belangstellings volg.
By die aanvang van die 2024- akademiese jaar is meer as 230 voltydse en deeltydse personeel verbonde aan die instelling, terwyl meer as 3 200 Fonties (Akademia-studente) oor albei onderrigleermodelle Akademia as ʼn studietuiste kies. Die groeiende personeel- en studentestrukture vorm die grondslag vanwaar die instelling sy visie verwesenlik, naamlik om ʼn akademiese tuiste te wees waar die denke én die hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms.
Op die oog af mag die instelling as betreklik jonk beskou word, maar sy wortels strek sover terug as Plato en sy denkskool wat in 387 v.C. in antieke Athene posgevat het. Akademia word gerig deur sy leuse, Ad futurum per fontes (losweg vertaal as “Uit die bronne na die toekoms”), en is daarom verbind tot die klassieke universiteitswese. Dit beteken dat die rol van die instelling méér is as bloot nóg ʼn opleidingsinstelling. In wese kom die klassieke universiteitswese tot sy reg wanneer dit eerstens in verwondering staan teenoor die werklikheid in die geheel, en dit tweedens tot kritiese, oop gespreksvoering lei.
Hierdie klassieke grondslag kry prakties gestalte deur vormingsinisiatiewe deurdat:
- Akademia in sy dosering van die verskillende dissiplines nie net die beste moontlike kennis in die onderskeie kennisvelde (die ekonomie, opvoedkunde, regte, rekenaarwetenskappe, ensovoorts) bied nie, maar dit ook insig in die samehang tussen die verskillende kennisvelde bied;
- Akademia se Kuns van Studentwees-module studente se verwysingsraamwerk verbreed en verdiep deur hulle aan die Groot Boeke bloot te stel;
- die NP van Wyk Louw-sentrum gevestig is om ʼn denkforum te wees wat gesprekke oor die teoretiese en praktiese dimensies tussen die akademiese en breër gemeenskap op plaaslike en internasionale vlak fasiliteer;
- Akademia met vooraanstaande internasionale klassieke-opleidingsuniversiteite skakel om insig oor beste praktyke op te doen ten einde Akademia se vormingsideaal verder uit te bou; en deurdat
- die idee van die ware, die goeie en die skone tot sy reg kom in ʼn lewenskragtige studentelewe. Die studentelewe staan nie in isolasie nie, maar vorm ʼn integrale deel van die student se holistiese vorming (die denke sowel as die hart).
Een van Akademia se waardes is “verbondenheid”.
Gedagtig daaraan is ʼn innoverende sentrumstrategie van stapel gestuur om Akademia se gemeenskapsverbondenheid steeds verder uit te brei. Hierbenewens word nóg fakulteite en programme in die vooruitsig gestel en is stappe reeds gedoen om hierdie uitbreiding ʼn werklikheid te maak. Verskeie nuwe akademiese programme is vir akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys ingedien.
- 'n Baken van Hoop in Suid-Afrikaanse Tersiêre Onderrig
Danksy visionêre leierskap en toekomsgerigtheid kon Akademia daarin slaag om binne die onstuimige aard van die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap as ʼn ligtoring te verrys. Deur die instelling se verbondenheidshartklop en die waardes van geloof, hoop en liefde, rentmeesterskap, pionierskap en sy waardering vir die ware, die goeie en die skone sal Akademia se bestaansrede ook vir toekomstige geslagte waar wees: Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe