Die Afrikanerstigting het op 4 Julie 2024 tot stand gekom. Dit was vir eers net ʼn sagte bekendstelling in dié sin dat daar hoofsaaklik op die webblad, embleem en enkele voorlopige aktiwiteite gefokus word. ʼn Omvattender bekendstelling sal in die volgende paar maande gereël word. Alhoewel die formele bekendstelling nog gereël moet word, is ons nou in die posisie waar ons die aktiwiteite van die Afrikanerstigting van stapel kan stuur in aanloop tot die meer formele bekendstelling.
Die Afrikanerstigting is deel van die Solidariteit Beweging, ʼn netwerk van instellings in Suid-Afrika wat daarop ingestel is om ʼn toekoms vir die Afrikaner-gemeenskap te verseker waarin hulle vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan. Die Solidariteit Beweging bestaan uit meer as 50 instellings en meer as 600 000 lede wat maandelikse bydraes gee vir die werk wat hierdie instellings doen. Hierdie instellings sluit in Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, Akademia, Sol-Tech, die Skoleondersteuningsentrum, die FAK, Maroela Media en vele ander. Elkeen hiervan het sy eie, onmiskenbare fokuspunt.
Ons Beweging word deur die slagspreuk van ons generasie geïnspireer, naamlik “Ons sal self”, wat beteken dat ons dit self sal doen. Hiermee word bedoel dat ons van niemand anders as onsself verwag om ons probleme reg te stel en ʼn beter toekoms vir ons gemeenskap te verseker nie. Ons wag nie vir die regering nie, en ons verwag ook nie van vennote in die buiteland om ons te red nie. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir ons eie toekoms.
Hierdie benadering moet egter nie geïnterpreteer word as dat ons nie in vriendskap en samewerking belangstel nie. Inteendeel, samewerking met ʼn wye netwerk van vriende en vennote binne en buite Suid-Afrika is vir ons van kardinale belang. In hierdie verband gebruik ons ʼn benadering van binding en oorbrugging. Met binding bedoel ons dat ons trots is op ons identiteit en dat ons aktief en onbeskaamd vir ʼn toekoms vir ons gemeenskap werk. Met oorbrugging bedoel ons dat ons op grond hiervan gretig na ander gemeenskappe uitreik vir vriendskap en samewerking. Ons is daarvan oortuig dat meningsverskille oor sekere kwessies nie moet impliseer dat daar nie samewerking kan wees oor kwessies waaroor ons saamstem nie. Dit is ons rigtinggewende beginsel ten opsigte van samewerking. Dit geld vir samewerking met die Suid-Afrikaanse regering, instansies in Suid-Afrika, tradisionele gemeenskappe in Suid-Afrika, asook vriende en vennote in die buiteland.
Dit is hier waar die Afrikanerstigting ʼn rol speel. Die doelwit van die stigting is om samewerking en steun buite Suid-Afrika te fasiliteer vir die werk waarby die onderskeie instellings van die Solidariteit Beweging betrokke is. Ons is nie ʼn regering nie en ons hef nie belastings nie. Tog is ons betrokke by ʼn lang lys van die tipe projekte waarby talle regerings betrokke is. Hierdie projekte behels hoofsaaklik die bou van instellings en die uitvoer van projekte wat ten doel het om die gemeenskap te dien en die toekoms te bou wat ons graag wil bereik. Ons glo dat sulke instellings – insluitend dié wat hierbo genoem is – nie deur die regering bestuur of beheer moet word nie, maar deur die gemeenskap. Ons word hierin geïnspireer deur die waarnemings van Alexis de Tocqueville in Democracy in America, waar hy opmerk dat die Amerikaners van die 19de eeu gedryf is deur ʼn sterk gevoel van gemeenskap waar die bou, instandhouding en betrokkenheid by gemeenskapsinstellings die hoeksteen vir ʼn gesonde gemeenskapslewe vorm.
Aangesien ons nie belastings hef nie, wend ons ons tot alternatiewe fondsinsamelingsinisiatiewe. In hierdie sin het ons groot sukses behaal met ons ledegebaseerde instellings en ʼn paar ander ondernemings wat daarop gemik is om inkomstestrome te ontwikkel. Die omvang van ons projekte is egter veel groter as wat ons deur ons “tradisionele” fondsinsamelingsmaatreëls kan bekostig. Ons is tans betrokke by die ontwikkeling van ʼn nuwe kampus vir Akademia, die ontwikkeling van private Afrikaanse skole en die ontwikkeling van Orania tot ʼn volwaardige stad, om net ʼn paar voorbeelde te noem.
In hierdie verband is buitelandse steun dus ʼn deurslaggewende volgende stap vir die Solidariteit Beweging. Die Afrikanerstigting sal dien as ʼn platform wat internasionale samewerking met onder andere bogenoemde instellings en inisiatiewe fasiliteer, veral om fondsinsameling in die buiteland te fasiliteer.
Ons glo die tyd is ryp vir die Afrikanergemeenskap om weer hul regmatige plek in die internasionale gemeenskap in te neem. Wat dit betref, sal ons nie net poog om steun vir ons onderskeie aktiwiteite te werf nie, maar ons sal ook aktief tot die internasionale gesprek oor die beskerming van gemeenskapslewe en die bewaring van erfenis en tradisie bydra.
Die pad is lank en daar lê vir ons baie werk voor. Maar dit is werk waarna ons gretig uitsien!
Ernst Roets
Dr. Roets is Uitvoerende Direkteur van die Afrikanerstigting